Nesnuus 7 Sep 2012
UIT DIE DSO-KANTOOR
Eksamen: Die eksamen nader nou vinnig. Die leerders het reeds eksamenroosters ontvang. Ouers moet asb. seker maak dat leerders betyds begin voorberei. Die eksamen duur van 14-28 September. Leerders moet ook seker maak dat hul betyds die afbakenings in elke vak kry. Alle take moet voor of op 14 September ingehandig word.
Afwesighede: Indien ‘n leerder tydens die eksamen afwesig is, sal slegs ‘n dr.-brief binne 2 dae nadat die vak geskryf is, aanvaar word. Indien naby familie oorlede is en die leerder die begrafnis in die eksamen moet bywoon, word ‘n begrafnisbrief vereis. Indien daar nie aan hierdie vereistes voldoen kan word nie, sal die leerder 0 kry. Tref asb. vooraf reëlings met me. K. Potgieter.
Loopbaanskou: Die gr. 11-leerders het ‘n insiggewende loopbaanskou op 3 September bygewoon. Bergsig bedank al die instansies wat kom uitstal het en die leerders van raad bedien het.
Gr. 9 Inligtingsaand: Die inligtingsaand o.l.v. mnr. Piet Steyn was baie suksesvol. Leerders het klaar hul keuses gemaak en daar word reeds aandag gegee aan die rooster vir volgende jaar.
Somersdrag: Somersdrag is verpligtend. U kan u vergewis van die reëls in die Bekboek asook op die webwerf: www.hsbergsig.co.za Indien ‘n leerder se voorkoms nie voldoen aan die skoolreëls nie sal hy eksamen geweier word.
BEHEERLIGGAAM
Bergsig dink aan mnr. Bruno Carreiro wat ‘n operasie ondergaan het en tans aansterk. Spoedige beterskap word u toegebid.
GIDEON-BYBELS
Baie dankie aan dr. van Schalkwyk wat namens die Gideons Bybels aan die gr.8-leerders uitgedeel het.
VSR-HOOFLEIERS
Baie geluk aan die hoofleiers wat vir 2012-2013 gekies is.
Zanelle van der Berg en Bruce Booysen is aangewys as voorsitters.
Die onder-voorsitters is: Annelie Coetzer, Lindie Höll, Elrie Liebenberg, Ryno Barnard, Drikus Blignaut, Tenvin Ganya.
CAPS-OPLEIDING
Die gr.11-onderwysers het vanaf 27-31 Augustus vir CAPS-opleiding gegaan. Dit is deur die Departement voorgeskryf en was verpligtend. Dit is nou afgehandel en die onderwysers is in volgetalle weer terug by die skool.
GR. 7-AANSOEKE
Neem asb. kennis dat die gr. 7-aansoeke reeds op 14 September 2012 sluit.
VSR-POEDINGPROJEK
Die jaarlikse poedingprojek by Huis Sering vind op 13 Oktober 2012 plaas. Ons vra dat u ook hierdie projek sal ondersteun. U kan ‘n bydrae lewer deur die volgende items te skenk: Ideal melk, kondensmelk, langlewe melk, Ultramel vla, kitspoeding, jellie, gebak ens. Handig dit in by die VSR-lede of by me. Karin Potgieter.
SPORT
Rugby
Baie geluk aan die Coke-span wat sesde in die reeks geëindig het. Dit is ‘n groot prestasie aangesien 35 skole deelgeneem het. Baie geluk ook aan die o/16 rugbyseuns wat net-net verloor het in die Beeldtrofee-finaal. Dankie aan elke seun wat sy hart uitgespeel het. Dankie ook aan die ouers vir hul betrokkenheid en ondersteuning. Sonder julle sou die seuns nie so ver gevorder het nie. Sien Communicator vir foto’s.
Landloop
Die landloopatlete oefen hard en pluk die vrugte van harde werk. Die junior dogters eindig eerste in die liga. Ruan Meintjies word aangewys as beste senior seun. Die volgende leerders ontvang provinsiale kleure en neem eerskomende naweek aan die ASA-Nasionale Kampioenskappe in Amanzimtoti deel: Diandra Potgieter; Marlé Oosthuizen; Wynand Hattingh; Simone Badenhorst; Ruan Meintjies, Omagolo Motaung; Keabetswe Tone. Baie dankie aan me. Mocke vir al haar harde werk en insette. Baie geluk en sterkte.
Boogskiet
Baie sterkte aan Janika Kilian wat in Oktober aan die wêreldkompetisie in Amerika gaan deelneem. Bergsig se eerste kompetisie tuis sal op
22 September 2012 plaasvind.
Ruiterkuns
Robin Swanepoel het sy Noordwes-kleure in ruiterkuns verwerf. Hy is ook aangewys as die veelsydigste asook die algehele beste ruiter. Belinda Lombaard en Marlia Verster het ook verskeie toekennings ontvang. Knap gedaan.
Cheerleaders
Michelle Armstrong en Christelle Willemse het provinsiale kleure verwerf. Christelle Willemse is ook aangewys as die onderkaptein van die Noordwes-span. Die afrigter Muriel Terblanche wat haar Provinsiale afrigtingskleure verwerf het, is ook aangewys as Nasionale Beoordelaar.
KULTUUR
Koor
Die koor neem op Vrydag, 7 September aan die Tswane-Jeugfees deel. Sterkte aan julle.
Die Noordwes Kinderkoor-oudisies het op 5 September plaasgevind. Kontak me. M. Boshoff in die verband.
Radikale Redenaars
Mizanne Hatting en Christi Pretorius neem op 13 Oktober aan die finale van die Nasionale kompetisie deel. Baie geluk.
Johan van Staden, Corrien van Dyk en Simone Badenhorst sal op 14 September aan die semi-finaal van die Noordwes kompetisie deelneem.
LANDSDIENS
Die landsdiens is tans besig met gemeenskapsprojekte en vra elke leerder se ondersteuning. Klere, wol en verf word benodig en kan ingehandig word by me. J. Meintjies of me. R. Reyneke. Dankie vir elkeen se ondersteuning in die verband.
AKADEMIE
Top Tien-uitstappie
Baie dankie aan me. Loubser en me. van den Berg wat die Top Tien-leerders op die uitstappie na Gauteng vergesel het. Die leerders het dit baie geniet. Sien Communicator vir foto’s.
Bergsig Bravo Ekspo
Die Bergsig Bravo Ekspo is ‘n nuutjie by Bergsig en die leerders het entoesiasties deelgeneem aan al die projekte. Die aand was ‘n reusesukses en elke leerder word bedank vir sy/haar bydrae. Baie geluk aan al die deelnemers en wenners. Dit sal voortaan ‘n jaarlikse instelling wees.
Nasionale Wetenskap Ekspo
Baie geluk aan Tiana Dodkins wat deurgedring het na die Nasionale Ekspo wat by Birchwood sal plaasvind. Sterkte.
Wiskunde-uitblinker
Een van ons leerders by die Engelse vleuel het aan die Wiskunde –Olimpiade by Lebone deelgeneem en ‘n eersteplek behaal.
BELANGRIKE DATUMS:
7 September Tswane Jeugkunstefees
14 September Gr. 7-aansoeke sluit
Radikale Redenaars Noordwes semi-finaal
14-28 September Toetsreeks gr 8 – 11
28 September Matriekafskeid
29 Sept- 5 Okt CSV-Winklespruitkamp
3-7 Okt Nasionale Landsdienskamp KZN
Bergsiggroete
___________________
E.N. NICHOLENAS